
Dit was weer sulke tyd by DSG en St Andrew’s College. Balke toe! en Stoppie lorrie! Verlede Saterdagaand is daar behoorlik geskoffel op die maat van lekker Afrikaanse Sokkie-musiek. Die tema was Rokkies en Frokkies en almal het heerlik uitgehang in hul bontste frokkies en oulikste rokkies terwyl daar ook hier en daar ’n khaki-broek en lang sokkies te bespeur was. Die Afrikaanse Departement wat hierdie geleentheid organiseer, is baie tevrede met die gees wat daar geheers het. Oral was kinders besig om mekaar te leer en as hulle eers die “moves” het, was daar geen keer aan die swaaiery en draaiery nie. Buite die saal was daar konka-vure kompleet met malvalekkers vir die wat ’n blaaskans nodig gehad het. Die aand was ’n reuse sukses en volgende jaar maak ons weer so. Loslappie!


